Laevet- vs. laekoolhidraatdiëte: Wat werk beter vir gewigsverlies?

Baie van ons besluit elke jaar om gesonder te leef en meer te oefen. Ons doen ons bes om by ’n dieet te hou en gim toe te gaan, maar soms is dit moelik om toegewyd te bly. As jy gewig wil verloor, maar wonder of dit die beste is om vet of koolhidrate te verminder, hou op stres.

Die waarheid is dit maak nie saak nie, solank jy minder kilojoules eet. Alle diëte sal op lang termyn tot dieselfde matige gewigsverlies lei, soos bevind in ’n studie aan die Harvard-universiteit in die VSA waarin die resultate van 53 studies ontleed is wat laevet- en laekoolhidraatdiëte onder 63 000 mense vergelyk het.

Lees ook: 4 dieetmites wat dokters wil hê jy moet ophou glo

Die laekoolhidraatdiëte het tot sowat 1,1 kg of meer gewigsverlies per jaar as die laevetdiëte gelei, maar dis gering as jy in ag neem dat die tipiese gewigsverlies slegs 3,8 kg was! Daar is dus nie regtig ’n “beter” dieet nie. Vir suksesvolle langtermyngewigsverlies stel kenners voor dat jy kilojoules op ’n manier uitsny wat vir jóú werk en volhoubaar is, en dat jy eerder daarop fokus om gesond te eet as om koolhidrate of vet uit te sny. Gebruik die halwebordreël as ’n riglyn: Maak seker die helfte van jou bord bestaan uit vrugte en groente, en die ander helfte uit proteïen en stysel.

Lees ook: Elmari se weeklikse Banting-dagboek

Selfs al is wat jy eet ’n groot deel van gewigsverlies, is oefening ewe belangrik. As jy ’n aktiewe leefstyl handhaaf terwyl jy ’n eetplan of dieet volg, kan dit jou help om jou gesondheids- en fiksheidsdoelwitte te behaal. Dit is belangrik om met jou oefenroetine te probeer volhou selfs nadat jy jou dieet verander het sodat jou liggaamsgewig nie te veel wissel nie.